top of page

Weerkaats God se Naam

Preek Jesaja 60 Heidelbergse Kategismus 47 - Woorde uit sy Woning

Lees Jesaja 60, Johannes 17:1-8 Sondag 47 Heidelbergse Kategismus Vraag 122: Wat is die eerste bede? Antwoord: “Laat u Naam geheilig word”. Dit is: • Gee allereers dat ons U reg ken • en dat ons U heilig, roem en prys in al u werke waarin u almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid so skitter. • Gee verder dat ons ons hele lewe, gedagtes, woorde en werke daarop sal rig dat u Naam nie om ons ontwil gelaster nie, maar geëer en geprys word. Uittreksel uit preekteks: So baie dinge en mense waarvoor daar gebid moet word: Die kerk se nood, my mense se nood, die land se nood. En nou vra God van my: Wat wil jy die graagste hê? Wat is jou grootste behoefte? Dan moet ek antwoord, hard en duidelik, reg volgens die kategismus: Gee vir ons allereers, vóór enigiets anders ... dat ons U Naam sal heilig. Hoekom verwag die Here Jesus dat dit die eerste petisie in ons gebede moet wees? Wat kan my gebed tot God se heiligheid bydra? Ons kan sy Naam tog nie meer heilig maak as wat dit alreeds is nie? Ander vertalings van die eerste bede gee inderdaad daardie indruk: Hallowed be thy Name, Geheilig zij u Naam. Ja, dit stel eenvoudig net ‘n feit: God se Naam is heilig. Niks word gevra nie. Tog is dit die belangrikste van al ons pleidooie by God: Laat u Naam geheilig word. Die HERE se Naam is nie maar net ‘n titel of ‘n aanspreekvorm nie. Sy hele wese word in sy Naam vasgevat. Wanneer ons bid: Ons Vader, beteken dit die Vader wat ons liefhet, vir ons sorg met alles wat ons nodig het. Vader, mag u heilige Persoon, u identiteit, u karakter u natuur, u eienskappe, u reputasie, u hele Wese ... mag dit geheilig word. God se Naam is nie iets wat ons soos ‘n Boeddhistiese mantra op die lippe neem nie of iets wat ons uit gewoonte of bygelowigheid aanroep nie. Allermins as ‘n vloek of ‘n stopwoord. Daarvoor is die derde gebod daar. God se heiligheid is onlosmaaklik aan sy heerlikheid verbind en sy heerlikheid is bestem om die hele aarde te vul. Wanneer ons bid: laat u Naam geheilig word, dan bid ons nie dat ons erkenning sal gee aan dit wat vanselfsprekend is nie, maar dat iets sal verander, dat iets sal gebeur, dat dit sal gebeur wat ons hier saam uit Jesaja 60 gelees het en dit is dat die hele aarde sal erken, die hele mensdom sal erken dat die HERE God is. Ons eerste bede vra dat ons dat ons die Bron van lig sal sien en dat ons op ons beurt daardie lig mag weerkaats. Om ons hemelse Vader reg te leer ken soos ons belydenis vra, moet Hy eers mense se oë oopmaak, moet Hy eers die duisternis van hierdie wêreld opklaar, moet Hy eers die gordyne ooptrek, moet Hy eers die wolke wegneem, moet Hy ons eers reinig van ons besoedeling. Die Messias, die Verlosser, die Kneg van die HERE, wat Jesaja ook voorspel het, Hy moes dit vir ons kom doen. Daarom is Jesus se gebed tot sy Vader vir ons so aangrypend. Ons moet onthou dit was op die vooraand van sy kruisiging. Ek lees weer uit Johannes 17: Vader, Ek het u Naam geopenbaar aan die mense die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Ek het U verheerlik op die aarde. Met ander woorde: Jesus het die duisternis opgeklaar, Hy het die wolkbedekking, wat daar was, weggeneem. Deur Hom is die besoedelde lug nou weer skoon. Die Bron van alle heiligheid en alle heerlikheid is nou weer oop en helder vir almal … vir almal wat aan die Here Jesus behoort, vir almal wat Hy leer bid het: Vader, laat u Naam geheilig word. En nou kry Jesaja se woorde aan die begin van hoofstuk 60 vir ons nuwe betekenis: Daarin is daar vir die kerk van alle eeue ‘n woord van aanmoediging. Deur te bid, laat u Naam geheilig word vra ons eintlik dat die Here ons in staat sal stel om dit te doen wat Jesus in Mat 5:16 van sy dissipels verwag: Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik. Broeders en susters, ons verheerlik God deur Hom as ons Vader voor mense te bely. Ons verheerlik God deur ons sonde te bely. Ons verheerlik God deur in die geloof te lewe, deur die vrugte van daardie geloof te dra, deur vergenoegd te wees met sy seëninge ... position: 682
274786248_527254085490123_3841177742869468131_n.jpeg

Wie is ons?

Ds Gustav Opperman is ‘n emeritus dominee, tot einde Februarie 2022 nog verbonde aan die Gereformeerde Kerk Matlabas, GK Matlabas. Saam sit ds Gustav en Ina, sy eggenote, hulle roeping voort...

Lees meer

 

Teken in op ons nuusbrief

Dankie vir die ondersteuning.

  • Facebook
  • Telegram-icon-with-black-color-on-transparent-background-PNG
  • Whatsapp
  • YouTube
bottom of page