top of page

Wat is die Here se wil?
Preek Openbaring 4 Heidelbergse Kategismus 49 - Woorde uit sy Woning
Lees: Openbaring 4,5 HK Sondag 49 Heidelbergse Kategismus Vraag 124: Wat is die derde bede? Antwoord: Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. Dit is: Gee dat ons en alle mense ons eie wil prysgee om aan u wil, wat alleen goed is sonder enige teëpratery gehoorsaam te wees, sodat elkeen sy amp en beroep net so gewillig en getrou kan beoefen en uitvoer soos die engele in die hemel Tema: Die Here se wil Geliefdes in die Here Jesus, Ons is die Lam se vrygekooptes en daarom luister ons weer vanaand na sy Woord. In besonder luister ons na sy Woord oor dit waarvoor ons moet bid. Voor God se hemelse troon is die goue skale vol reukwerk Hulle bevat immers ook ons gebede. So het ons vanaand gelees. Ons is die heiliges wie se gebede instrumenteel is in die voltooiing van die wêreld geskiedenis. Waarvoor moet ons dan bid? Ons moet eerstens bid dat God se Naam geheilig sal word. Ons moet bid dat sy koninkryk sal kom totdat Hy alles in almal sal wees. en dat sy wil sal geskied en dat daarmee hemel en aarde in absolute volkome harmonie met mekaar sal kom, soos ons hier in Openbaring 4 en vyf lees. En in elkeen van daardie gebede, vra ons dat die HERE iets in ons lewens sal verander: Laat ek, o Here in my lewe al hoe meer van u heerlikheid en heiligheid weerkaats. Dis die eerste bede. Dan, laat ek hoe langer hoe meer u heerskappy in my lewe sigbaar maak. Dis die tweede bede. Die derde bede volg dieselfde patroon. Laat u wil geskied, beteken: Ons Vader, leer my gehoorsaamheid. Leer my om u wil in my lewe te laat geskied. Nie een van hierdie drie bedes roep ons op tot passiwiteit nie. Nee, in elke van die drie bedes bied die gelowiges hulself as medewerkers van God aan. Met al drie hierdie bedes bied ons onsself aan ... bied ons onsself aan as diensknegte nie net in ons godsdiens nie, maar ook ons lewensdiens. In elke van die drie bedes hoor ons ‘n weerklank van daardie bekende woorde in die brief aan die Romeine: Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer ... dit is julle redelike godsdiens (Romeine 12:1). Daarom is die Derde Bede nie ‘n gebed van berusting nie. Laat u wil geskied is nie ‘n kwessie van “Vader, as dit dan nou maar moet gebeur, laat dit dan maar gebeur. Vader, help my tog net om dit wat my oorkom, te aanvaar.” Dis ook so hoe baie mense Christus, die Lam se gebed die aand voor sy slagting verstaan. Toe het Hy mos in die tuin van Getsemane gebid: My Vader, as hierdie beker nie by my kan verbygaan sonder dat ek dit drink nie, laat u wil geskied (Mat 26:42). Die Here vra daar, so meen baie, dat die Vader Hom sal help om in die onafwendbare te berus. Nee, geliefdes, ons Here vra daar, dat sy eie wil onder die wil van die Vader sal buig, Hy vra daar dat sy eie wil opgegee sal word sodat die wil van die Vader tot uitvoering sal kom. Daarom kon Jesus ook met krag en oortuiging van sy gebed opstaan. Die gebeurtenisse wat daarna volg, van sy arrestasie tot sy uiteindelike sterwe, word deur ons Here gewil ... gewil in ooreenstemming van sy Vader se wil. Daarom staan daar ook in Hebreërs 5: Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het, en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ’n bewerker van ewige saligheid geword (Hebreërs 5:9). Jesus Christus was nie ‘n beruster nie, Hy was ‘n bewerker ... Hy was ‘n bewerker van ewige saligheid. Laat u wil geskied soos in die hemel net so ook op die aarde. Daarmee word nie net die hemel en die aarde betrek nie, maar ook die kerk en wêreld. Met hierdie bede word ons na God se troonsaal verplaas, na die toneel wat vir ons hier in Openbaring vier en vyf beskryf word, hier waar die ouderlinge, die kerk van alle eeue uitroep: U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape. Deur God se wil. God se heilige wil is die oorsprong van die skepping. God se heilige wil bepaal die voortbestaan van daardie skepping. position: 678
bottom of page