top of page

Verlos ons van die bose!
Preek Openbaring 19 Heidelbergse Kategismus 52 - Woorde uit sy Woning
Lees: Openbaring 19:1-10 Heidelbergse Kategismus Vraag 128: Hoe sluit jy jou gebed af? Antwoord: Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Dit is: Ons bid dit alles van U omdat U as ons Koning, wat mag oor alles het, ons alle goeie dinge wil en kan gee sodat daardeur nie ons nie, maar u heilige Naam ewig geprys sal word Vraag 129: Wat beteken die woord Amen? Antwoord: Amen wil sê: Dit is waar en seker. Want my gebed is baie sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart voel dat ek dit van Hom begeer. Tema: God se amen Die troos is 52 Sondagafdelings lank aan ons verkondig. Ons dank die Here daarvoor ... dat Hy dit moontlik gemaak het ... Volgende week begin ons DV weer met ‘n volgende reeks. Daar is al gesê: 'n Kerk wat nie by die Kategismus lewe nie, is vir die dood opgeskrywe. Ons kan byvoeg: Sou die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika nie terugkeer ... nie terugkeer na die weeklikse kategismusprediking nie, dan is sy ook vir die dood opgeskrywe ... dan sal sy nie stand hou teen die poorte van die hel nie. Nie omdat die Heidelbergse kategismus volmaak is nie, maar wel omdat dit die beste opsomming gee van al die beloftes en gebooie van God ... wel omdat dit die beste verskansing is, die beste verskansing wat ons het teen die leuens van ons tyd. Vanaand kyk ons na die slot van die Onse Vader: Aan God behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Die Onse Vader gebed het begin by God die Vader: By ons Vader wat bo in sy hemelse paradys is ... In ses bedes het al ons geestelike en al ons liggaamlike nood aan die orde gekom. Ons het verlede week 'n kykie gekry in die dieptes van die hel toe ons leer bid het verlos ons van die Bose … Ons het gebid dat God alle mag wat teen Hom opstaan sal vernietig ... Ons het gebid dat God die werke van die Duiwel sal verpletter. Ja, uiteindelik het ons met ons gebed midde-in die stryd hier op aarde gestaan ... die stryd tussen die kerk van God en die sataniese magte ... Maar die Bose mag nie die laaste sê hê nie. Dit sal ons Here nie toelaat nie. Ten slotte kyk ons weg van die Bose. Ons rig ons oë weer op die getroue Vader, want aan Hom behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid … Die oorwinning staan vas. Al sien ons nou in die wêreld niks daarvan nie, vir ons is dit verseker: Die ryk is van God en Christus het oorwin. Ons eindig ons gebed met die “Halleluja” van die bruid van Christus … soos ons dit sopas in die Skrifgedeelte in Openbaring gelees het . Vreugde, vertroosting en rus ... Daar kom die nuwe hemelse Jerusalem . Dis die openbaring van mag van God en van sy Christus. Elke oog sal Hom sien … En die hele geskiedenis vind sy eindbestemming: Voor die troon van God en die Lam kom die wêreldgeskiedenis tot 'n einde in 'n Amen-Halleluja … position: 667
bottom of page