top of page

Moenie teenoor jou dokter kla: Waarom moet ons so swaar kry!

Preek Exodus 15 - Woorde uit sy Woning

Lees Eks 15:1-16:3 Teks Eks 15:26 Ek is die HERE wat jou gesond maak. Elke seisoen het sy siektes en plae ... … 'n Mens raak gewoond daaraan … dan praat ons onder mekaar van skete en kwale … party minder ernstig … party dodelik ernstig … Dit kan wissel van 'n ligte verkoue tot 'n ongeneeslike kanker … Partykeer is dit 'n kanker van die siel … 'n knaende depressie wat skaars deur medikasie bedwing kan word, soms 'n sluimerende obsessie, 'n haat, 'n hartstog, 'n ou verwyt, 'n irritasie, soos 'n kraan wat drup, drup, drup, of dalk selfs 'n tydbom wat die sekondes af tik, tik, tik … Deesdae het omtrent elke somer sy hittegolwe, sy versengende son en ‘n wolklose hemel so ongenaakbaar as maar kan kom. Partykeer deel ons net 'n algemene moedeloosheid, platgeslaan deur die agteruitgang in die land, platgeslaan deur die gebrek aan vooruitgang ... platgeslaan omdat ons nerens kom nie. En bykans altyd, bykans sonder uitsondering soek ons iemand of iets om te blameer … Dit kan jou man of jou vrou wees. Dit kan die hond of die regering wees … Baas of klaas … dis iemand se skuld! Dit kan selfs die Here wees … Gewoonlik is dit die Here … Maar ons sê dit nie sommer hardop nie … “Sê jy vir ons, Moses!” “Sê jy vir ons, dominee!” “Sê jy vir ons, ouderling!” Het die Here ons dan al genoeg beproef nie? Die water is bitter … Maar ook die geloof moet geoefen word, broeders en susters. Ons geloof moet beproef word … Ons harte moet eers deur moeite verneder word, soos Psalm 107 sê (12). Ons Godsvertroue moet aangeleer word, soos die alfabet: Letter vir letter, klank vir klank … Niks wat nie gebrei is nie, niks wat die lewe nie taai gemaak het nie, het enige waarde nie … Moses neem die saak na God toe … Moses tree in vir die volk … nie in 'n gewone gebed nie … nie die gewone gebed wat ons voor ete aframmel nie … nie in 'n gewone versoek nie … nie die gewone versoeke wat deel is van ons aandgebede nie … nie die hartelose offers wat ons so dikwels gebede noem nie … Nee, … dink maar aan die woorde van Psalm 147(3): Hy genees die wat gebroke is van hart, Hy verbind hulle wonde Die wat gebroke is van hart … Moses het die Here aangeroep Hier, diep vanuit sy binneste … 'n rou kreet … Moses het die HERE aangeroep en die Here skenk 'n boom van genesing … Op grond waarvan skenk die God die boom van genesing? Hy skenk dit op grond van Moses se aanroep … Moses die middelaar, Moses wat ingetree het … Dit word ook gesê van 'n ander Middelaar, my Middelaar, Jesus Christus … In die brief aan die Hebreërs staan daar: Daarom kan Christus ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree (Hebreërs 7:25). 'n Beter Middelaar as Moses … Hy wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, Hy deur wie se wonde julle genees is (1 Pet. 2:24). Hy het reeds vroeg in sy bediening hier op aarde gewys dat Hy die eintlike Geneesheer is Op baie plekke het Jesus mense genees. Hy het baie verskillende uiteenlopende mense genees … Sommige mense het Hy nie genees nie … Met Sy eerste besoek aan sy tuisdorp Nasaret het Hy niemand genees nie. Hulle wou Hom nie as die Geneesheer erken nie … Die eerste melaatse waarvan ons lees in die Markus-evangelie kom na Jesus toe …, hy smeek Hom …, Hy val voor Hom op die knieë … Here, as U wil, kan U my reinig. En Jesus het vir hom innig jammer gevoel Hy het die hand uitgesteek en hom aangeraak Hy het vir hom gesê: Ek wil, word gereinig! (Markus 1:40ev) Hy is die HERE wat ons gesond maak. Dit beteken nie dat ons van elke siekte en kwaal wat ons tref genees sal word nie. Dit beteken nie dat ons nou al die ewige lewe het nie. Dit beteken nie dat daar onder die 600,000 Israeliete by Mara geen sterfgevalle meer voorgekom het nie ... Dit beteken wel dat elkeen van ons, wat Hy uit Egipteland gered het, dat ons genoeg van die lewe sal ontvang, dat ons genoeg genesing sal ontvang, om uiteindelik ons lewenspad te voltooi ... So word ons altyd weer terug gelei na hierdie les van die Here se ABC, die eerste les van Godsvertroue, die eerste Psalm wat ek as kind geleer het … So eenvoudig dat die kleinste kind dit kan verstaan … Die Here, … is my herder. Niks sal my ontbreek nie. Na waters waar rus is, … Lei Hy my heen.. position: 683
274786248_527254085490123_3841177742869468131_n.jpeg

Wie is ons?

Ds Gustav Opperman is ‘n emeritus dominee, tot einde Februarie 2022 nog verbonde aan die Gereformeerde Kerk Matlabas, GK Matlabas. Saam sit ds Gustav en Ina, sy eggenote, hulle roeping voort...

Lees meer

 

Teken in op ons nuusbrief

Dankie vir die ondersteuning.

  • Facebook
  • Telegram-icon-with-black-color-on-transparent-background-PNG
  • Whatsapp
  • YouTube
bottom of page