top of page

Leuens! Vals Nuus? Hoe verskans jy jou?

Preek Openbaring 19 Heidelbergse Kategismus 52 - Woorde uit sy Woning

Leuens! Vals Nuus? Hoe verskans jy jou? Daar is al gesê: 'n Kerk wat nie by die Kategismus lewe nie, is vir die dood opgeskrywe. Ons kan byvoeg: Sou die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika nie terugkeer ... nie terugkeer na die weeklikse kategismusprediking nie, dan is sy ook vir die dood opgeskrywe ... dan sal sy nie stand hou teen die poorte van die hel nie. Nie omdat die Heidelbergse kategismus volmaak is nie, maar wel omdat dit die beste opsomming gee van al die beloftes en gebooie van God ... wel omdat dit die beste verskansing is, die beste verskansing wat ons het teen die leuens van ons tyd. Vanaand kyk ons na die slot van die Onse Vader: Aan God behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid! Daar is van die ou Griekse tekste wat hierdie woorde nie in het nie . Hulle eindig direk na die sesde bede met “amen”. Op grond daarvan het die Roomse kerk hierdie woorde weggelaat ... Daarom het die Roomse gelowiges hierdie lofprysing ook weglaat. Daarom is dit ook afwesig in die 1983-Afrikaanse vertaling. Hierdie weglating bring natuurlik ons kerklike belydenisskrifte direk in gedrang ... As die woorde nie in die Bybel hoort nie, dan behoort ons dit mos ook uit die Heidelbergse Kategismus te haal? Vir my staan dit vas dat hierdie woorde deur en deur Skriftuurlik is. Hulle word deur engele in die hemel herhaaldelik gebruik. Slegs die duiwel kan daarby baat ... Slegs die duiwel sal vreugde vind as dit uit die Bybel weggelaat word. In hierdie woorde word die kern ons geloof vertolk. Die Onse Vader gebed het begin by God die Vader: By ons Vader wat bo in sy hemelse paradys is ... In ses bedes het al ons geestelike en al ons liggaamlike nood aan die orde gekom. Ons het verlede week 'n kykie gekry in die dieptes van die hel toe ons leer bid het verlos ons van die Bose … Ons het gebid dat God alle mag wat teen Hom opstaan sal vernietig ... Ons het gebid dat God die werke van die Duiwel sal verpletter. Ja, uiteindelik het ons met ons gebed midde-in die stryd hier op aarde gestaan ... die stryd tussen die kerk van God en die sataniese magte ... Maar die Bose mag nie die laaste sê hê nie. Dit sal ons Here nie toelaat nie. Ten slotte kyk ons weg van die Bose. Ons rig ons oë weer op die getroue Vader, want aan Hom behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid … want sy koninkryk sal kom, sy koninkryk is besig om te kom ... sy heerskappy het gekom ... Die gelowiges sal in die eindtyd baie beproef word. maar die boek Openbaring bevestig die koningskap van Christus Die oorwinning staan vas. Al sien ons nou in die wêreld niks daarvan nie, vir ons is dit verseker: Die ryk is van God en Christus het oorwin. Ons eindig ons gebed met die “Halleluja” van die bruid van Christus … soos ons dit sopas in die Skrifgedeelte in Openbaring gelees het . Vreugde, vertroosting en rus ... Die Here Jesus is die geheim van die geskiedenis … Sy opstanding uit die dode ... Sy hemelvaart ... Daar waar Hy stelling ingeneem het aan die regterhand van sy Vader, ver bo alle owerheid en mag en heerskappy. Hy kom weer met die wolke. Elke oog sal Hom sien … En die hele geskiedenis vind sy eindbestemming: Voor die troon van God en die Lam kom die wêreldgeskiedenis tot 'n einde in 'n Amen-Halleluja … Christus is die sin in die geskiedenis, die Alpha en die Omega … dan gaan oor “His story”. Ook in ons lewensgeskiedenis … die graf wat gegrawe moet word, die motorongeluk, die siekte, die misoes, die agteruitgang in die land … selfs dit is die ontvouing van God se geskiedenis … God se geskiedenis in Jesus Christus. HK 52 Vr 128 Sesde bede Deel 2 God se Amen! Openbaring 19 2017 02 19 position: 660
274786248_527254085490123_3841177742869468131_n.jpeg

Wie is ons?

Ds Gustav Opperman is ‘n emeritus dominee, tot einde Februarie 2022 nog verbonde aan die Gereformeerde Kerk Matlabas, GK Matlabas. Saam sit ds Gustav en Ina, sy eggenote, hulle roeping voort...

Lees meer

 

Teken in op ons nuusbrief

Dankie vir die ondersteuning.

  • Facebook
  • Telegram-icon-with-black-color-on-transparent-background-PNG
  • Whatsapp
  • YouTube
bottom of page