top of page

Koronakrisis: Dringende Waarskuwing! Dringende boodskap: Die leë Uurglas
Preek Psalms 104 - Woorde uit sy Woning
Dringende Waarskuwing! Dringende Boodskap: Die leë Uurglas ... In Puteoli het Paulus ongeveer in die jaar 60 na Christus voet aan wal gesit het en sewe dae daar vertoef. Puteoli was verbind aan twee ander groot stede: Hercalaeum en Pompeii, aan die voet van Vesuvius. In 63 nC het die aarde onder Puteoli, Hercalaeum en Pompeii in beweging gekom. 16 Jaar later, op 29 Augustus 79 nC het Vesuvius ontplof. Teen een van die mure van die stad Pompeii is die volgende woorde geskryf gestaan: “Sodom en Gemorra”. Wie het dit daar geskryf? Was dit 'n Christen of 'n Jood? Ons weet nie. Ons weet wel: Paulus het in die jaar 60 in Puteoli gepraat. Hy het God se volle Woordopenbaring aan die gelowiges gebring … sewe dae lank. God het gepraat, soos Hy dikwels in die verlede gepraat het en soos Hy ook in die toekoms sal praat … Hy het gepraat met die kruisiging van Sy Seun. Toe was daar 'n aardbewing. Hy het gepraat met die opstanding van Sy Seun. Toe was daar 'n aard-bewing. God praat met sy geloofsvolk deur die aardbewing. So soos Hy met Elia op die berg Horeb gepraat het. So soos Hy met die gemeente in Handelinge vier gepraat het: Terwyl hulle gebid het, is die plek geskud waarin hulle saam was en hulle is almal vervul met die heilige Gees en hulle het die woord van God met vrymoedigheid gespreek (4:31). God praat deur die natuur deur sy algemene openbaring. God praat deur sy woord met die besonderse openbaring. Die apostels het die woord van God met vrymoedigheid gespreek. Op hulle beurt het die gemeente dieselfde woord met vrymoedigheid gespreek. Sewe dae lank het Paulus die broeders in Puteoli onderrig. Soos altyd moes daar by hom 'n gevoel van dringend-heid gewees het. Hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, broeders, maar bestraf dit liewer! Julle kan nie saam met hierdie heidene rondom julle hoereer en vloek nie. Julle het nie die tyd om te mors voor die skouspele van die sportarenas nie. Koop die tyd uit, omdat die dae boos is! (Ef. 5) En wat julle van my gehoor het, broeders van Puteoli, vertrou dit toe aan getroue manne wat ook bekwaam sal wees om ander te leer … en gaan in die strate van Puteoli in en besoek die huise van Pompeii en verkondig … verkondig … verkondig Jesus Christus! Koop die tyd uit, omdat die dae boos is! Wanneer ons die boek Handelinge lees, dan sien ons telkens: Die apostels het die evangelie verkondig. Die dissipels het die evangelie verkondig. Die gemeente het die evangelie verkondig. 'n Deel van daardie evangelie is die goeie nuus van Christus se verlossing. 'n Deel van daardie evangelie is die slegte nuus van Christus se komende oordeel. God waarsku die wêreld van sy toekomende oordeel. Hy doen dit deur sy woord in die mond van sy profete, maar Hy waarsku ook die wêreld deur die trillings in Los Angeles en Tokio. Hy waarsku deur tsunami’s. Hy raak ook die berge aan, en hulle rook … Die tornado's, die tifone en die siklone … God wandel op hulle (so het ons uit Psalm 104 aangehaal). Hy wat van die winde sy boodskappers maak. God waarsku die wêreld deur die pessiektes, Cholera, griep en VIGS. Dan hierdie virus, dan daardie een. Sewe dae, sewe jaar, sewe honderd jaar van evangelie verkondiging … Hoe lank hoor ons dit al? Wie 'n oor het om te hoor, laat hom hoor! Bron: Psalm 104 & Handeling 28 Koronakrisis: Dringende Waarskuwing! Dringende boodskap! Die leë Uurglas Ds Gustav Opperman GK Woorde uit sy Woning 2020 04 03 Kry 'n gratis transkripsie van hierdie preek en ander preke weekliks: Ons gemeente is 102 jaar oud. Musiek gebruik in hierdie video: Ons het toestemming om hierdie musiek te gebruik in ons video: Psalm 65 & Psalm 144 Glorieryke Psalms www.ico.org.za info@ico.org.za Tel: 0824914965/ 012 332 0336 Orrelis: Harry Jonkers position: 433
bottom of page