top of page

Huil oor die Kerk!

Preek Nehemia 2 - Woorde uit sy Woning

Ek sal nooit ophou om my te verwonder oor die kerk nie: dat daar hoegenaamd nog ‘n kerk is ... ‘n Kerk in die Bosveld of daar in die stad ... 'n Kerk wat nog gereformeerd wil wees. Dis vir my ‘n Godswonder! Dat mense hulle swaarverdiende geld bydra, dat mense bereid is om hulle Sondae op te offer, dat mense partykeer bereid is om op Sondae tientalle kilometers te ry om hier te wees, hulle kosbare vrye tyd beskikbaar te stel vir die onderhoud van die erediens ... vir die kerk ... ‘n instansie sonder enige ooglopende voordeel, ‘n instansie wat in baie opsigte meer probleme as vreugde het ... Dit bly vir my ‘n Godswonder. Dit kom beslis nie uit onsself nie. Daar is soveel wat daarteen is, soveel wat daarteen opgestel is. Die gees van die tyd het nie ‘n saak met die kerk nie. En tog, en tog ... tog sal diegene wees wat hulle sal klaarmaak en bou en God ... Hy sal ons dit laat geluk. Neem nou maar vir Nehemia as voorbeeld. Hy leef in die tyd na die ballingskap, een honderd en veertig jaar na die ballingskap. Koning Kores, het toe reeds die Jode toestemming gegee om terug te keer na die Beloofde Land. ‘n Klein groepie het van die vergunning gebruik gemaak. Die res wou nie. Daardie Jode het al te goed ingeburger geraak in die Babiloniese ryk. Wat nou daar op die heuwels van Judea gaan staan en sukkel? En u weet en ek weet, broeders en susters, ‘n mens kan nie agter sentiment aan trek nie. Die Joodse konings en die priesters, die tempel en die stad ... dis alles dinge van die verlede. Kom ons aanvaar dit nou maar. So het hulle geredeneer. Nehemia het ‘n goeie betrekking gehad, ‘n besonderse goeie betrekking. Hy was die skinker van die Persiese Koning Atrasasta. Nehemia was ‘n Gewone Jood wat homself goed opgewerk het ... tot in die troonsaal van die magtigste man in die destydse wêreld. En tog ... kry die man se lewe ‘n ander wending. Dit kry ‘n nuwe wending na ‘n terloopse gesprek met sy broers en sy vriende wat op reis was ... toe hy verneem hoe dit in Juda gaan. Die klompie Jode wat wel destyds teruggekeer het, (so hoor hy) hulle verkeer in groot ellende en in smaad ... in skande. Hulle is ‘n spul sukkelaars. Hulle is ‘n hopie verloorders ... Hulle word die vrygeraaktes genoem, die oorgeblewenes wat vrygekom het uit die gevangeneskap. Maar wat beteken dit as hulle jou ‘n vrygeraakte noem, maar jy is oorgelewer aan ‘n sukkelbestaan, oorgelewer aan die spot van jou bure? En die mure van die stad Jerusalem lê steeds stukkend. Nog steeds na ‘n honderd en veertig jaar lê die mure steeds stukkend ... en die stad se poorte is met vuur verbrand net soos die Babiloniërs dit agtergelaat het. Toe Nehemia hierdie woorde hoor ... toe gryp die HERE sy hart vas. Nehemia het gesit en geween. Hy het dae lank getreur. (So het ons gelees.. Daar is baie dinge wat ons tot trane kan beweeg, broeders en susters: verlange ...selfbejammering ... pyn ... dronkverdriet ... trane van spyt ... trane van woede, maar wanneer ons huil oor die mure van Jerusalem, wanneer ons spesifiek huil oor die toestand van die kerk, dan is daar net een oorsaak: Dis die hand van God. Dan is dit die hand van God om ons hart, die hand van God wat ons hart omklem ... en die trane uit ons oë pers ... Wie weet, Broeders en susters, miskien vind ek u een aand by die vertrapte grensdraad ... by die vertrapte grensdraad van hierdie stukkie gereformeerde grond, hierdie stukkie gereformeerde grond wat die HERE julle hier in die Bosveld gegee het? Net soos Nehemia daardie nag besig om die mure van Jerusalem te besigtig en sy poorte wat met vuur verteer is, vind ek u daar by die stukkende grensdraad. Miskien vind ek u eendag by die katkisasieklas met ‘n traan in oog oor die min Bybelkennis wat ons kinders het, oor die min kinders wat daar nog is, met ‘n traan in oog oor die totale wyse waarop ons jeug in baie opsigte gekapituleer het, hulself oorgegee het aan die mode en grille van die wêreld, oor al die grense in ons dogters se voorkoms wat vernietig is. Miskien vind ek u met 'n traan in u oog by die leë kerkbanke op 'n Sondagoggend of 'n Sondagaand? Leë kerkbanke omdat ons mense die wêreld liewer het, omdat ons mense 'n groter honger en dors vir die dinge van hierdie wêreld op 'n Sondagoggend en Sondagaand het. Miskien vind ek u daar... Skryf in op ons YouTube kanaal! position: 688
274786248_527254085490123_3841177742869468131_n.jpeg

Wie is ons?

Ds Gustav Opperman is ‘n emeritus dominee, tot einde Februarie 2022 nog verbonde aan die Gereformeerde Kerk Matlabas, GK Matlabas. Saam sit ds Gustav en Ina, sy eggenote, hulle roeping voort...

Lees meer

 

Teken in op ons nuusbrief

Dankie vir die ondersteuning.

  • Facebook
  • Telegram-icon-with-black-color-on-transparent-background-PNG
  • Whatsapp
  • YouTube
bottom of page