
Groef in geloofslewe?
Preek Psalms 126 Heidelbergse Kategismus 22 - Woorde uit sy Woning
O Here ons het alweer verlossing nodig! Ons is alweer verneder! Ons is alweer verleë. Verander ons lot! Verander ons omstandighede! Ken u ook daardie groef in u geloofslewe? Eendag is jy die groot sportheld, die beste skrumskakel in die wêreld ... die volgende dag is jy ‘n sterwende geraamte. Die een dag is jy die smeulende skoonheid van die silwerdoek, die volgende dag is ‘n verrimpelde ou vrou vir wie geen skoonheidskuur meer wil help nie. Die apostel Paulus skryf aan die Filippense en dat praat hy van ons vernederde liggame. As ons mooi daaroor dink, kom die vernedering op vele fronte voor. Maar dan is daar nog erger vernedering deur siekte ... deur ouderdom ... uiteindelik die dood en die graf ... wat die verganklikheid van die vlees ... maar net weereens beklemtoon. Uit stof en tot stof terugkerend. Dis die harde werklikheid. Ons Belydenis kom vanaand weer om te sê: God verander die harde werklikheid ... Hy keer die harde werklikheid om. Hy keer dit om tot ‘n heerlikheid ... so groot dat dit nie in die hart van ‘n mens opgekom het nie. Ons Belydenis sê: God se kinders is uit heerlikheid geneem en hulle is tot heerlikheid terugkerend ... tot groter heerlikheid terugkerend. God se kinders is uit die paradys geneem en hulle keer terug tot ‘n paradys staat ... ‘n paradys wat ons grootste drome oortref. Dis wat ons ook vanaand uit Psalm 126 leer. Die HERE verander die lot van Sion. Die HERE keer die situasie weer om. Hier in Psalm 126 word natuurlik nie direk na die opstanding uit die dood verwys nie ... nie direk nie, maar wel indirek. Direk hou die Psalm verband met die volk se terugkeer uit die ballingskap. Die volk se lot was om daar in die vreemde te bly ... weg van die vriendelik aangesig van God, weg van Jerusalem. Dis mos die strekking van Psalm 137. En toe gebeur die ondenkbare. Die Persiese Koning gee die bannelinge toestemming om terug te keer. Nie net dit nie, Koning Kores gee ook bevel dat die tempel herbou moet word! Kan jy dit glo? Kan dit waar wees ... die mees radikale ommekeer denkbaar! Van die mees hopelose situasie denkbaar tot ‘n omstandigheid wat getuig van God se aller oorvloedigste seën. Te goed om waar te wees! En tog, as ons mooi daaroor dink, is hierdie nie ‘n nuwe tema in die volk se geskiedenis nie. Ons het dit al daar in Eksodus 15 gehoor ... toe Israel op wonderbaarlike wyse uit Egipteland verlos is ... Trouens, die patroon loop soos ‘n goue draad deur die hele Skrif. Daar is eerstens ‘n absolute desperate situasie vir Israel. Dan is daar ‘n ongelooflike ingryp deur die getroue Verbondsgod. Die mensdom neem met verbasing kennis. God se kinders sing ‘n Psalm. Die Here het groot dinge aan ons gedoen: Ons was bly! Hier in Psalm 126 word God se reddende genade vergelyk met waterstrome in die Suidland. Maar broeders en susters, Psalm 126 het ook sy hartseerkant. Die heerlikheid was groot. Die genade vir die volk was onbeskryflik ... soos ‘n droom ... maar terug in die Beloofde Land was daar maar weer probleme ... Die ou probleme: Die tweestryd tussen broer en broer, traagheid en ongehoorsaamheid, droogtes, siektes en plae, onderdrukking ... Die vyand wat lê en loer ... en steeds, oral in elke dag se lewe: Die grynslag van die dood ... Die mond van die graf lê wyd oop en wagtend ... Gou, gou is God se volk weer in ‘n groef. En nou hoor ons weer ons Psalmdigter uitroep: O HERE, verander ons lot soos waterstrome in die Suidland. O HERE, ons het alweer verlossing nodig ... Verander ons omstandighede! Bron: Psalm 126 Heidelbergse Kategismus Sondag 22 Vraag 57 Die wat met trane saai. Groef in u geloofslewe? Ds Gustav Opperman Woorde uit sy Woning Bely uit die Psalms Troosreeks#32 2017 11 19 Musiek: Ons het toestemming om hierdie musiek te gebruik in ons video: Sola Sacra Scriptura Potchefstroomse Mannekoor Olv Babs Brouwer babsbrouwer@mweb.co.za sel:083 306 4525 Psalm 144 Glorieryke Psalms www.ico.org.za info@ico.org.za Tel: 0824914965/ 012 332 0336 Orrelis: Harry Jonkers position: 516