top of page

Die pad na die hemel is oop!

Preek Rigters 13 - Woorde uit sy Woning

Die pad na die hemel is oop Lees Rigters 13 Heb. 10:1-18 Teks Rigters 13:19,20 Toe neem Manóag die bokkie en die spysoffer en offer dit op die rots aan die HERE terwyl Hy wonderbaarlik handel voor die oë van Manóag en sy vrou: toe die vlam van die altaar opstyg na bo, het die Engel van die HERE in die vlam van die altaar opgevaar. Tema: Die pad na bo Psalms: 66:1,2, 66:6, 4:3,107:1,9,10, 20:1-4. Geliefdes in die Engel van die Here In ons reis deur die Ou Testament mag ons nie ons oë van die Here Jesus Christus afhaal nie. Hier in die boek Rigters kom ons wonderlike verhale teë ... wonderlike verhale van wonderlike mense, verhale wat ons aangryp omdat die mense daarin so herkenbaar is ... mense soos ons ... bang mense, dapper mense, selfsugtige en offervaardige mense ... Hier met die geskiedenis van Simson leer ons die mens in al sy fasette ken ... Gelowig, maar tog ook ongehoorsaam. Diensvaardige aan die Here, maar oop vir verleiding ... Simson ...‘n patetiese swakkeling, maar ook ‘n tragiese held ... Die blinde gevangene wat sy lewe opgeoffer het en die hele heidentempel op die Filistyne se koppe laat afkom het. Aangrypend ... Maar dan as ons ons oë afhaal van die eintlike Held, dan mis ons die punt ... As ons ons oë afhaal van die Engel van die HERE, en sy wonderbaarlike handeling in die offervlam dan sal die Ou Testament nooit iets meer as ‘n storieboek word nie. Toe die vlam van die altaar opstyg na bo, het die Engel van die HERE self in die vlam opgevaar ... Dis wat ons gelees het ... Dis die wonderbaarlike handeling van die Engel van die HERE. Hier in Rigters 13 staan Israel volgens alle menslike verwagting toekomsloos. As die HERE dus sy volk opsoek, kan hierdie besoek net toegeskryf word aan die feit dat Israel die volk van die verbond is en dat Hy ... Hy die God van die verbond is ... So klink die woorde van Johannes die doper se vader dan ook deur die geskiedenis op. So klink die woorde van Sagaria ook vandag bekend: Dis deur die innige barmhartigheid van onse God dis deur daardie innige barmhartigheid waarmee die opgaande Lig uit die hoogte ons besoek het (Lukas 2:78). En in die Engel se woorde aan die vrou klink dieselfde woorde van genade deur die eeue, dieselfde woorde wat Sara en Rebekka gehoor het, dieselfde woorde wat die onvrugbare Elisabeth en die maagd Maria gehoor het: jy sal swanger word en jy sal ‘n seun baar ... U sien, geliefdes, hierdie Engel bring die kragte van die toekoms na hierdie wêreld. Die kragte van die toekomstige eeu bring Hy in hierdie onvrugbare, gestorwe wêreld binne ... Nie maar ‘n beter leefbare wêreld nie ... Nee, ‘n heeltemal nuwe wêreld ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde ... bewoon deur die nuwe mens ... die nuwe mens ... wat die HERE sal soek, wat die HERE sal ken en wat die HERE sal dien. Daarom sal hierdie seun wat gebore word, nie net nog ‘n seun wees nie ... Hy sal ook nie Superman, Batman of Rambo wees nie ... Hy sal ‘n Nasireër wees ... Die vrou se kind sal ‘n kind van die verbond wees. Hy sal ‘n Nasireër wees ... Hy sal sy hele lewe ... al die vreugde en die krag daarvan aan die HERE wy ... En as die hart van die gewone gelowige in die Ou Testament aan die brand raak, dan kry daardie brandende hart deur die Nasireërskap ‘n pad na die hemel ... Dit was die pad wat die HERE deur sy wet in Numeri 6 voorgeskryf het ... ‘n pad na die hemel, daar waar ons eendag sal wees, daar waar ons met ons brandende harte en ons gewillige hande eendag sal wees ... Wanneer Manoag meer besonderhede wil weet ... meer wil weet oor die leefwyse en werk ... van die kind wat nog gebore moet word ... dan is daar geen meer besonderhede nie ... Net die bevestiging van dit wat reeds aan die vrou gesê is. Die ouers moet die seun voorgaan in sy toewyding aan die HERE: Vir alles wat Ek aan die vrou gesê het moet sy haar in ag neem. Van alles wat van die wingerdstok afkomstig is, mag sy nie eet nie, en geen wyn of sterk drank moet sy drink nie en niks eet wat onrein is nie, alles wat Ek haar beveel het, moet sy onderhou. So het Manoag en sy vrou die Engel van die HERE aangehoor ... position: 694
274786248_527254085490123_3841177742869468131_n.jpeg

Wie is ons?

Ds Gustav Opperman is ‘n emeritus dominee, tot einde Februarie 2022 nog verbonde aan die Gereformeerde Kerk Matlabas, GK Matlabas. Saam sit ds Gustav en Ina, sy eggenote, hulle roeping voort...

Lees meer

 

Teken in op ons nuusbrief

Dankie vir die ondersteuning.

  • Facebook
  • Telegram-icon-with-black-color-on-transparent-background-PNG
  • Whatsapp
  • YouTube
bottom of page