top of page

Die kerk - Ons Huis van genade
Preek Efésiërs 1 Heidelbergse Kategismus 21 - Woorde uit sy Woning
Sondag 21 Huis van genade (die kerk) Lees Efesiërs 1: HK Sondag 21 Teks: Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus Tema: Huis van genade Psalms: 33:1,6, 1:1,4, 105:1,2,4, 122:1,2. Heidelbergse Kategismus Vraag 54: Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk? Antwoord: Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou en dat ek daarvan 'n lewende lid is en ewig sal bly. Vraag 55: Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges? Antwoord: Ten eerste dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het. Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend. Vraag 56: Wat glo jy van die vergewing van die sondes? Antwoord: Dat God, op grond van die voldoening van Christus, aan al my sondes en ook my sondige aard waarteen ek my lewe lank moet stry nooit meer wil dink nie. Uit genade wil Hy aan my die geregtigheid van Christus skenk sodat ek nooit in die strafgerig van God sal kom nie. Geliefdes in die huis van God, Waar staan ons nou in ons reis deur ons belydenis? U sal miskien nog onthou ons het in Sondag 7 by die vraag gekom: Word alle mense gered in Jesus Christus soos ons almal geval het in Adam en Eva? En daarop was die antwoord: Alleen die wat in Christus ingelyf word .. deur ‘n ware geloof ingelyf word ... alleen die wat al sy weldade aanneem. Dit is hulle wat jy in die Here se kerk sal vind. Het u al ooit gewonder waar die woord kerk vandaan kom? Nêrens in die Bybel kom ons die woord kerk tee nie. Ons kan dus wel vra of die kerkskeptiese mense nie dalk 'n punt beet nie as hulle sê dat die kerk ‘n Roomse uitvinding was nie, as hulle sê dat die kerk ‘n bose plan was om menslike mag te sentraliseer? En daarom as die gelowige werklik vry is, het hy of sy nie werklik die kerk nodig nie? Die woord kerk kom van die Griekse woord kuriachea. Kuriache word weer afgelei van ‘n ander Griekse woord, ‘n ander Griekse woord wat baie in die Bybel voorkom ... in beide die Ou en Nuwe Testament en dis die woord Kurios. Kurios wat Here beteken ... Die Kuriache is dui dus op niks anders as op die mense wat van die Here is nie ... Mense wat van die Here is ... ‘n vergadering van die Here se mense, mense soos die Efesiërs en Paulus wat skryf van ons Here Jesus. Die Here Jesus behoort aan hulle en hulle behoort aan Hom. Die kerk is ‘n vergadering van mense wat in ‘n baie nou intieme verhouding leef met die Here Jesus Christus. Saam met Jesus is hulle broers en susters in die huis van die hemelse Vader ... Die hemelse Vader het hulle as sy kinders aangeneem. Hulle is kinders wat ‘n volwaardige erfdeel ontvang. position: 695
bottom of page