top of page

Bid vir die beste reismaat! Die Heilige Gees

Preek Lukas 11 - Woorde uit sy Woning

Lees Lukas 11:1-13 Teks: 11:13 As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid? Tema: Bid vir die beste Reismaat Geliefdes, Soos ons vanoggend as gemeente weer die wederkoms van die Christus bely het, soos elkeen van ons vas glo dat Jesus eendag weer na ons toe sal kom ... So is ons ook op pad na Hom toe, so is die gelowiges ook op pad na die ewige Vaderhuis toe. Ons kan dus ook sê dat ons elke dag besig is om die Here tegemoet te trek. Niks, niks sal immers die siel wat by God hoort uiteindelik van God weerhou nie. Daardie siel sal ook nooit rus voordat dit weer in die ewige Sabbatsrus by sy Skepper is. Ons reis as behoeftiges, as hulpbehoewendes. Eintlik, as ons eerlik is, reis ons as armlastiges. Die reis is ook vol gevare. Ons word daagliks op pad beproef. Dis 'n pad vol strikke en afdraaipaaie. Ons is reisklere raak verslete. Ons het elke dag padkos nodig. en die son steek bedags. Ons is nie ook alleen nie. Ons dra ook 'n verantwoordelikheid met ons saam. Ons het reisgenote op pad, mede-gelowiges wat partykeer nog behoeftiger is as ons, medereisigers met wie ons nie net moet klaarkom nie, maar wat ons ook ondersteun, wat ons in sommige gevalle moet ophelp en selfs help dra op die reispad. Ag, ons slaan ons oë op na die berge, waar sal ons hulp vandaan kom? Die Here Jesus leer ons vandag 'n reisgebed, nog 'n bedevaartslied op ons pelgrimstog. Hy leer ons die Onse Vader en Hy leer ons ook om die belangrikste item op ons gebedslys nie oor te slaan nie. Hy leer ons om te bid vir die Heilige Gees. In hierdie opsig het die Here Jesus nie net vir ons die modelgebed geleer nie, maar het Hy ook vir ons 'n voorbeeld gestel. Jesus onderbreek sy eie reis na Jerusalem, sy reis na die ewige heerlikheid word kort-kort onderbreek. Ons sien dit in al vier die evangelies, veral in die evangelie volgens Lukas. Dikwels word daar eers stilgestaan, dan moet die knieë eers gebuig word Daar moes eers gebid word. Jesus se dissipels sien dit raak. Hulle het ook gesien of verneem dat Johannes die doper sy eie dissipels hierdie gewoonte geleer het en nou vra hulle die Here: Here, leer ons ook bid. O Here, trek ons tegemoet met U koninkryk, met U wil. Vra! Gaan die hemelse Vader met dit wat julle nodig het en vra Hom. Hy is meer as die vriend in die gelykenis. Hy is die hemelse Vader. Kort julle wysheid, broeders en susters? Weet julle nie meer wat om te dink of te doen nie? Op julle reispad weet julle nie meer herwaarts of derwaarts nie? Staan julle besluiteloos voor 'n kruispad? So skryf die apostel Jakobus in sy brief. As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid. Hy is die God wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt (Jakobus 1:5). Dan is dit weer Paulus wat aan die Filippense skryf Wees oor niks besorg nie. Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking bekend word by God (Filippense 4:6) Die gawe van die Heilige Gees is die hoofmotivering van ons gebed. U het al gehoor mense sê hulle is vasgevang in 'n bose kringloop? Wat is 'n bose kringloop? Dit is byvoorbeeld wanneer iemand aan drank verslaaf is. En hoe meer hy drink, hoe meer probleme veroorsaak hy en hoe meer probleme hy veroorsaak, hoe meer drink hy. Dis 'n bose kringloop. Maar broeders en susters, daar is ook soiets soos 'n goeie kringloop, 'n Goddelike kringloop ... en dit is die gebedskringloop van God se pelgrims op hulle reis na die ewigheid. Hoe meer hulle bid, hoe meer hulle gelowig bid hoe meer ontvang hulle van God se Gees, hoe meer geniet hulle die ontsaglike gawes van die Heilige Gees, Hoe meer hulle van God se Gees ontvang, hoe meer bid hulle. Dis 'n Goddelike kringloop en daardie kringloop gee momentum aan ons lewenspad, dit lig ons as't ware van hierdie aarde af op. Daardie kringloop helder ons oë op sodat ons die pad voor duidelik kan sien, daardie kringloop maak ons ore oop sodat ons God se reisaanwysings duidelik kan hoor. Ontbeer u 'n aanddiens/Kategismusprediking? Ons reekse kan met vrug gebruik word in Bybelstudiegroepe position: 676
274786248_527254085490123_3841177742869468131_n.jpeg

Wie is ons?

Ds Gustav Opperman is ‘n emeritus dominee, tot einde Februarie 2022 nog verbonde aan die Gereformeerde Kerk Matlabas, GK Matlabas. Saam sit ds Gustav en Ina, sy eggenote, hulle roeping voort...

Lees meer

 

Teken in op ons nuusbrief

Dankie vir die ondersteuning.

  • Facebook
  • Telegram-icon-with-black-color-on-transparent-background-PNG
  • Whatsapp
  • YouTube
bottom of page