top of page

Wat gaan in 2019 gebeur? Waarom leef ek nog? Wat is die sin?
Preek Prediker 3 - Woorde uit sy Woning
2019: Wat gaan gebeur? Waarom leef ek nog? Waarom tyd? Wat is die sin van alles? Dis weer daardie tyd van die jaar 'n Tyd om na te dink oor die dinge wat verby is 'n Tyd om wonder oor die dinge wat voorlê … om te beplan vir die jaar wat kom. Sommige het die voorreg om by familie te wees … om die toekoms te sien blom in kinders en kleinkinders. Ander sit weer in eensaamheid … hulle gesels in stilte oor dinge lank gelede, hulle gesels met geliefdes wat lank reeds dood is. Baie het reeds opgegee: hulle soek die toekoms en die verlede diep, diep onder in die ronding van 'n bottel. Dis net die mens wat stoei met die gedagte Net die mens worstel met tyd. Net die mens worstel met ewigheid. Op die oog af … as die stukkies daar lê is dit een groot deurmekaarspul, maar tot ons verbasing sien ons tog uiteindelik hoe hulle inmekaarpas, sien ons uiteindelik hoe God die stukkies van die legkaarte van ons lewens … een vir een aanmekaarlas … en dan weer ons lewens aan die legkaarte van ander lewens … tot die groot, groot legkaart van die mensdom … en die wêreldgeskiedenis. Net die mens dink daaroor na. Net hy soek die bedoeling van die lewe. Net hy soek die sin in die geskiedenis. Die mens kan 'n gedeelte van die legkaart sien. Hy sal nooit die hele legkaart sien nie. Die werk wat God doen, van begin tot end, sal die mens nie kan uitvind nie Die werk wat God doen, van begin tot end … dit bly verborge. Groot denkers, groot filosowe, groot kunstenaars … Beethoven, Bach, NP van Wyk Louw ... Almal het al probeer … niemand kon dit regkry nie. Die hart wat ons dink en doen bepaal, die hart wat ons gedagtes en ons voete rig. Dis in daardie hart waarin God die eeu gelê het. Dis ook daardie hart wat so dikwels onrustig is, wat soekend is. Dis daardie hart van wie die digter NP van Wyk Louw geskryf het: “O die hart is Bitterkos Bitterkos en wildekos …” Dis van daardie hart waarvan die sanger Johannes Kerkorrel destyds gesing het: “Die hart is 'n eensame jagter.” Onthou u hom nog? Dis daardie hart wat dieselfde Kerkorrel se voete gerig het na die boom, die boom waaraan hy homself sou ophang. “Bitterkos en wildekos …” Die eeu in die hart van die mens. Altyd verlangend, altyd soekend … dikwels ook selfvernietigend. In die vierde eeu na Christus het die kerkvader Augustinus geleef. In sy jong dae was hy soekend. Hy het wysheid en kennis in boeke en geleerdheid gesoek. Hy het ook saligheid in die arms van vroue gesoek. Toe, eendag was die Here hom genadig: Die Here het hom gevind deur 'n oop Bybel in 'n tuin in Rome. Daar vind dié Saligmaker hom, die Saligmaker in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is (Kolossense 2:3). Daardie ontmoeting verander Augustinus se lewe. Jare later skryf hy: “Ons hart is onrustig in ons …totdat … totdat ons hart rus vind in God …” Dit mag so wees dat u ook in hierdie feestelike seisoen 'n vae onrus het, 'n onverklaarbare verlange het. Miskien is u weemoedig. Miskien gaan u die nuwe jaar oormoedig binne. Miskien gaan u die nuwe jaar binne met allerhande voornemens. Miskien is u soekend … Daar is dalk meer vrae as wat waarvoor daar antwoorde is. Weet dan: God het u so gemaak. Hy het die eeu in u hart geplaas. Op u eie sal u nooit die begin en die einde van sy werk kan uitvind nie ... Maar eendag, op sy tyd, soos die legkaart voltooi word, sal u Hom sien: die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping! position: 666
bottom of page