top of page

Verlang na die Hemelstad

Preek Hebreërs 11 - Woorde uit sy Woning

Lees: Hebreërs 11:1-16 Teks: Hebreërs 11:10 hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is. Psalms: 48:1,4, 48:5, 102:8,9, 84:1,3, 122:1,2. Broeders en susters, Namate 'n mens ouer word, sal jy meer dikwels heimweë ervaar. Heimweë is die verlange na iets wat verbygegaan het, iets wat eens was, maar lankal nie meer daar is nie: miskien is dit my kaalvoetkinderdae, miskien is dit 'n verlange na die liefde van die jeug ... Dan blaai ek deur 'n ou foto album of ek gaan druk my voete weer in die branders van 'n strand waar ek as kind laas gespeel het, en ek besoek die opstalle van ou familieplase, wat nou in 'n ander tyd in die vergetelheid verval het. Ja, 'n mens kan so in die verlede leef, dat jy uiteindelik oor niks anders kan praat nie. U ken dalk sulke mense. Vandag wil ek egter u aandag vestig op 'n ander soort verlange, Abraham se verlange en dis 'n toekomsverlange. Abraham het verlang na 'n stad, 'n stad wat êrens in die toekoms lê ... nie 'n mensgeboude stad nie, maar een waarvan God self die boumeester en oprigter is, 'n Goddelike stad. Abraham het 'n ander aantrekkingskrag ervaar. Abraham het 'n ander stem gehoor en daardie stem het 'n verlange by hom wakker gemaak ... volgens die brief aan die Hebreërs 'n verlange na 'n stad, 'n stad ongekend in die menslike geskiedenis, 'n stad met 'n hemelse oorsprong. Nou is dit nogal opmerklik dat Abraham se geskiedenis in die boek Génesis geen melding maak van 'n stad of 'n stadverlange by Abraham nie. Abraham het sy land verlaat om te gaan bly in die land Kanaän as vreemdeling. Ons Skrifgedeelte verwys ook daarna as 'n vreemde land, die plek wat hy as erfenis sou ontvang, 'n beter vaderland as dit een wat hy geken het. Tog is dit duidelik uit die Skrif dat Abraham meer as net 'n gewone reishonger gehad het en dat die plek wat hy as erfenis sou ontvang meer as net 'n lappie van hierdie aarde sou wees. Abraham en Isak en Jakob het verlang om te wees daar waar God is … Daardie plek wat Jakob ook destyds in sy droom gesien het: Bet-El die huis van God ... Die huis van God. 'n Beter Vaderland, die beloofde land. Die stad van God ... Daardie plek waar daar volkmaakte gemeenskap met die HERE is. Ons lees in Openbaring 21: En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal die stad kom van God uit die hemel, toeberei soos 'n bruid wat vir haar man versier is. En ek het 'n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees, en God self sal by hulle wees as hulle God (Openbaring 21:2ev). Geloof maak dat die apostel Paulus, sonder om te skroom aan die Fillipense kan skryf: Ons burgerskap is in die hemele. Ons is nie burgers van hierdie wêreld nie. Ons het 'n verbintenis aan 'n ander Koning, 'n ander Koning by Wie dit verreweg die beste is. Die Koning van die nuwe hemel en die nuwe aarde, die Koning van die nuwe Jerusalem, wat skoonste is van alle stede. Deel u ook met Abraham daardie naamlose verlange na die nuwe Jerusalem? Is daardie verlange werklik die dryfveer hoekom u vandag in die erediens is? position: 701
274786248_527254085490123_3841177742869468131_n.jpeg

Wie is ons?

vitae tempus quam pellentesque nec nam aliquam sem et tortor consequat id porta nibh venenatis cras sed felis eget velit aliquet sagittis id consectetur purus

Lees meer

 

Teken in op ons nuusbrief

Dankie vir die ondersteuning.

  • Facebook
  • Telegram-icon-with-black-color-on-transparent-background-PNG
  • Whatsapp
  • YouTube
bottom of page