top of page

Kom wandel in die lig van die Allerhoogste! Klim af van jou troontjie!
Preek Jesaja 2 - Woorde uit sy Woning
Is dit nie lekker om ver te kan sien nie? Om bo-op die hoogste bergpas te staan en tot by die verste horison te kan kyk, soos ons hierbo vanaf die Kransberge byna drie dae die toekoms in kan sien. Of om vanuit 'n vliegtuig die wolke van bo-af te sien, om die motors doer onder soos speelgoedkarretjies te sien ry, om vanaf die hoogste gebou die mensestippels daar onder dop te hou. Dit gee ons onwillekeurig 'n gevoel van mag. Ek hierbo en julle outjies daaronder! Hier op sy eie hoogte het 'n man darem 'n beter perspektief. As jy so ver kan sien, kan jy ook beter oordeel. En die Here het my tog ook 'n gesonde verstand gegee. En as hierdie gode vir my werk … Nou ja! Wie is jy om te oordeel? 'n Mens mag mos nie oordeel nie, (so sê ons vandag vir mekaar). Ek mag nie oordeel nie! U mag nie oordeel nie! Uiteindelik, as elkeen sy eie koning is, mag die Allerhoogste uiteindelik ook nie oordeel nie! Ons Skrifgedeelte weerspreek hierdie siening: Daar is maar één God, één God ...wat hoër as al hierdie gode woon. Sy huis staan vas op 'n heilige berg, hoër as al die ander berge en heuwels. Hy is die een God wat vanuit die hoogte die wêreldgeskiedenis stuur en beheer. Hy is die een God wat nie soos ons mense buie en grille het nie, eén God wat 'n onweerstaanbare Woord en 'n wet het … Sonder twyfel! Hierdie God beveel sy volk om saam met Hom op sy berg te kom woon. Hy sê: Kom wandel hier in my lig! Deur die res van Skrif leer ons hierdie God ken. Ons leer Hom ken deur 'n spesiale Naam, 'n Naam wat eintlik so baie van Hom sê: Hy … is die Allerhoogste! Kom, huis van Jakob laat ons wandel in die lig van die Here! Dit is die HERE se oproep tot ons vandag. Kom, laat ons wandel in die lig van die Here! Die woord “kom” – Ons vind hom so dikwels in Jesaja ... Soos 'n vader na sy kinders roep: “Kom!” Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: Al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu … (1:18). O Almal wat dors het, kom na die waters, en wie geen geld het nie, kom, koop en eet, ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk! (55:1) Kom! Die vraag is net: Hoe? Hoe kom ek van hierdie patetiese hoogtetjie tot dáár by die Allerhoogste? Hoe kom ek van hierdie mishoop koninkrykie waarop ek my tuisgemaak het tot daar by die HERE! Hoe kom ek van hierdie troontjie waar ek nou is, tot dáár by die lig van die Here ... om dáár te kan wandel? Bron: Kom wandel in die lig van die Allerhoogste! Klim af van jou troontjie! Jesaja 2:1-22 Musiek gebruik in hierdie video: Psalm 65 Glorieryke Psalms www.ico.org.za info@ico.org.za Tel: 0824914965/ 012 332 0336 Orrelis: Harry Jonkers position: 569
bottom of page