top of page

Hemelvaart Deel 2 Die verhoogde Here is hier!

Preek Johannes 17 Heidelbergse Kategismus 18 - Woorde uit sy Woning

HK Sondag 18 Vr 49 (Deel twee: Die Hemelvaart) Lees Johannes 17:1-26 Tema: Die verhoogde Here is hier! Psalms: 8:1,4, 68:3, 68:8, 69:9 Heidelbergse Kategismus, Sondag 18 v/a 49 Vraag: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons? Antwoord: Ten eerste dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader is. Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as 'n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof, ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem. Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur deur wie se krag ons soek na wat daar bo is, waar Christus is en aan die regterhand van God sit, en nie na wat op die aarde is nie. Geliefde Gemeente, Medegelowiges en Toehoorders, Nadat die Seun Homself laat verneder het ... nadat Hy die gestalte van 'n dienskneg aangeneem het, het daar nou 'n nuwe fase in sy werk aangebreek. Die fase van vernedering is verby. Nou volg die fase van verheerliking, die verheerliking waarop Jesus by die Vader aandring. Van vernedering na verheerliking! Daarmee kry die Here se gebed 'n ander karakter. Jesus kom nou in 'n posisie om vanuit sy verhoogde posisie sy Vader te vra wat Hy wil hê. En nou bid Jesus: Verheerlik my by Uself! Verheerlik my met die heerlikheid wat Ek by U gehad het, voordat die wêreld was. Dit is sy eis op grond van sy voltooide arbeid: Ek het my werk gedoen. Nou vra Ek. As antwoord op hierdie gebed het die Vader die Seun na die hemel laat opvaar, het die Vader die Seun 'n Naam bo alle name gegee Só sien ons, Geliefdes, dat Jesus nou ons Voorspraak in die hemel is. Hy is ons Voorspraak as Here! Nie as lydende kneg nie, maar as verheerlikte Seun! Jesus Christus het sy werk volbring en daarom het Hy nou reg daarop om deur die Vader verhoor te word. Dít wat ons sopas gehoor het, het geweldige konsekwensies vir ons hier op aarde. Christus het reg op verhoring in die hemel en Hy handhaaf daardie reg. Wanneer jy dus vanaand op jou knieë gaan en bid vir die vergewing van die sondes wat jy vandag gedoen het, dan sê Christus: “Vader, Ek wil hê dat U hom moet vergewe, want die feit dat daardie sondaar dáár homself op sy knieë voor Ons verootmoedig, dit is my werk! Verheerlik My, en vergewe hom!” En wanneer jy hier op aarde met jou geloof worstel, dan sê Christus: “Vader, Ek het aan haar u Woord bekend gemaak en U sien hoe sy worstel om daaraan vas te hou. Verheerlik My, en gee haar vastigheid in die geloof!” En as jy hier op aarde teen jou sonde stry en swaar aanvegtings moet verduur, dan sê Christus: “Vader, dit is danksy my werk dat daardie een u wet erken en daarvolgens wil lewe. Verheerlik My en hou hom staande in die stryd!” Wanneer ons volgens die Skrifte bid ... bid vir alles waarvoor Christus ons beveel het om te bid (die woorde van Sondag 45) ... Wanneer ons sê: “Vader, ons smeek dit van U!” ... dan sê Christus op daardie selfde oomblik: “Vader, Ek eis dit van U!” Wanneer ons sê: “Asseblief, Vader … dan sê Christus: “Dit moet gebeur, want Ek is die geslagte Lam!” Geliefdes, dit is die waarborg van die hemelvaart. Moet daarom nie huiwer om te bid nie! Moenie die gebed afskeep nie! Moenie maak asof die gebed tog nie help nie. Christus sórg daarvoor dat ons nie afgewys word nie. Christus het gebid vir krag om sy kerk te kan bewaar. Hy het geweet dat ons dit sou nodig hê, omdat die wêreld ons haat. (Dit het ons in vers 14 gelees) ... omdat die wéreld ons wil verswelg, omdat die wêreld ons wil versmoor in sy dodelike omhelsing. Jesus bid daarom vir kragte van bewaring. En die Vader beantwoord hierdie gebed met die uitstorting van die Heilige Gees ... Hy wat die krag van bewaring in eie Persoon is! Dit is deur krag van sy Gees dat ons kan aanhou om die dinge te soek wat daarbo is, soos wat die Kategismus sê ... Christus bid dus in feite vir krag, sodat ons hemelsgerig kan lewe! Hoe sukkel ons nie daarmee nie! Ons soek so graag die dinge hier op aarde. Ons bedink so graag die dinge van die wêreld. Wanneer ons opgeroep word om die dinge te soek wat daarbo is en nie wat op die aarde is nie, dan gaan dit oor die rigting van ons lewe: Lewe jy vertikaal, gerig op Christus in die hemel? Of lewe jy horisontaal, gerig op die sondige plesier en begeerlikhede van hierdie wêreld? Sukkel u ook daarmee, Broeders en Susters? Ons hardloop dikwels nog vinniger as die ongelowiges om deel te neem aan die begeerlikhede van die wêreld. Ons is dikwels nog meer wêrelds as die wêreldse mense self! Stel u self voor: As ons werklik gerig is op die hemel en die dinge soek wat daarbo is, watter suiwerende en heiligende invloed kan ons nie hier op aarde hê nie! Hoe mooi en nuut gaan die lewe dan nie word nie, mooi en nuwe huwelike en gesinne, mooi en nuwe kerkgemeenskappe, pligsgetroue arbeiders en leerlinge. Besoek se Faceboekblad Teken in op ons poslys: position: 734
274786248_527254085490123_3841177742869468131_n.jpeg

Wie is ons?

vitae tempus quam pellentesque nec nam aliquam sem et tortor consequat id porta nibh venenatis cras sed felis eget velit aliquet sagittis id consectetur purus

Lees meer

 

Teken in op ons nuusbrief

Dankie vir die ondersteuning.

  • Facebook
  • Telegram-icon-with-black-color-on-transparent-background-PNG
  • Whatsapp
  • YouTube
bottom of page