top of page

Gryp vas aan Sy kleed deur die waas van u trane
Preek Lukas 8 - Woorde uit sy Woning
Medies gesproke: 'n Hopelose geval Menslik gesproke: 'n Verlore saak! Gryp die soom van Sy kleed! In hierdie gedeelte van die evangelie volgens Lukas leer ons drie dinge van die Here Jesus ken In hoofstuk 8 vers 22 sien ons dat Hy die storm stilmaak. Hy het dus mag oor die ganse skepping. Vanaf vers 26 demonstreer Hy dat ook die duiwels aan Hom onderworpe is. Sy mag strek ook oor die demonewêreld. En dan, in ons Skrifgedeelte is daar sy mag oor die dood. Hierdie eienskappe van Hom is nie bloot teoreties nie, dis nie net iets wat droë teoloë besig hou nie, Nee dit is eienskappe, wat daagliks ‘n groot verskil maak in die harde praktyk, wat ‘n verskil maak in gewone mense se daaglikse lewens, hier op die stofpaaie wat ons loop hier waar ons trane op hierdie aarde stort. Hier waar die Seun van God onder ons kom tent opslaan het, soos Johannes dit in sy evangelie stel. Hier waar daar daagliks brood van smart geëet word en die mensdom rondmaal, in radeloosheid rondmaal. Nie weet herwaarts of derwaarts nie. Hier waar die gevolge van die sondeval so duidelik sigbaar is. Ons Skrifgedeelte begin so. En toe Jesus terugkom van bootvaart na die oorkant van die see, het die skare Hom verwelkom, want almal was Hom te wagte. Onder hulle was daar die sensasiesoekers, diegene wat ‘n bietjie opwinding in hulle saai lewens soek ... die buitengewone tekens en wonders, wat hierdie towenaar van Nasaret gereeld gedoen het, waaroor so baie mense praat. Hulle was Hom te wagte, maar daar was ook die ander wagtendes. Hulle wag soos die daaglikse rye en rye pasiënte wag Hulle wat by die Steve Biko Hospitaal in Pretoria opdaag hopende dat hulle ‘n dokter te sien sal kry. Hulle sit in rye en rye van bloeiende verbande, krukke en rolstoele, stukkende brille, leë beursies, deurgetrapte skoene Checkers sakkies met ‘n paar toebroodjies en verweerde pilvoorskrifte in die hand vasgeklem. Of hulle staan buite in die rookwalms van die nikotien verslawing ... wagtend ... Nie net hulle nie, maar ook die depressielyers, die angstiges, die bekommerdes, die gejaagdes en die slapeloses. Hy is beskikbaar. Hy is beskikbaar, soos Hy altyd beskikbaar was. Hy is beskikbaar ... Nee, meer as dit, Ons lees elders: Hy het die skare innig jammer gekry. Selfs daar druk die Afrikaanse vertaling dit nog nie sterk genoeg uit nie. ‘n Ander vertaling praat van ‘n diepe deernis. Sy meegevoel vir die arme mense het Hom tot in die ingewande ontroer. Bron: Lukas 8:40-56 Gryp vas aan Sy kleed deur die waas van u trane Ds Gustav Opperman Woorde uit sy Woning 2017 03 12 position: 576
bottom of page