top of page

God se grootste gawe: Geloof
Preek Romeine 8 Heidelbergse Kategismus 23 - Woorde uit sy Woning
HK Sondag 23 God se grootste gawe – geloof Skrifgedeelte: Romeine 8:1-17, 31-39 Tema: God se grootste gawe - geloof Heidelbergse Kategismus Vraag 59: Maar wat baat dit jou nou dat jy dit alles glo? Antwoord: Dat ek in Christus voor God geregverdig en 'n erfgenaam van die ewige lewe is . Vraag 60: Hoe is jy regverdig voor God? Antwoord: Slegs deur 'n ware geloof in Jesus Christus , so dat al kla my gewete my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is, God nogtans aan my sonder enige verdienste van my kant , uit louter genade die volkome genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus skenk. Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het. Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover ek dit met 'n gelowige hart aanneem. Vraag 61: Waarom sê jy dat jy slegs deur die geloof regverdig is? Antwoord: Nie dat ek op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik is nie, maar omdat slegs die genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus my geregtigheid voor God is. En dit kan ek nie anders as slegs deur die geloof aanneem en my eie maak nie. Broeders en susters, Vanaand het ons weer ons geloof saam bely. Nou kom die vraag na ons toe: Wat baat jou geloof jou? Is dit vir jou voordelig? Dis nie net 'n vraag wat die kategismus aan ons vra nie. Dié vraag word ook deur die duiwel en die wêreld gereeld aan die Christen gevra: Wat baat dit jou dat jy elke Sondag hier sit, dat jy getrou Bybel lees, dat jy daagliks op jou knieë gaan, dat jy gereeld kerklike bydrae gee? Wat kry jy daaruit? Dis 'n ou vraag waarop ons die regte antwoord moet kan gee. Het ons geloof al ooit vir ons wins gebring? As ons in die koerant lees dat die Lotto-godin breed vir hierdie of daardie een geglimlag het, is ons nie dalk net 'n bietjie jaloers nie? Hoe dikwels sorg ons geloof dat so 'n meevallertjie na ons kant toe kom? Gaan ons geloof vir ons welvaart of sukses gee? Daar is kerke wat dit so verkondig: Hulle bring die lidmaat se geloof en sy finansiële voorspoed in direkte verband met mekaar. Gaan dit met jou gesondheid of geldsake sleg, dan skort daar iets met jou geloof … Ons kan ook vra: Gaan geloof ons eiendom, of die lewens van ons geliefdes beveilig? Bring ons geloof ooit vir ons plesier? Om in die drie-enige God te glo, kan soms so 'n pretbederwer. Geloof kan so in die pad wees wanneer daar 'n plesier-geleentheid opduik … Daarom vra ons vandag weer na die nut van ons geloof. Daarom moet ons die lig van die Skrif en die belydenis op die saak werp. position: 689
bottom of page