top of page

Die onsigbare is werklik!
Preek Filippense 3 Heidelbergse Kategismus 22 - Woorde uit sy Woning
HK 22 Die onsigbare is werklik Lees Filippense 1:12-2:18, 3:17-4:9, HK Sondag 22 Tema: Deur Christus verheerlik. Heidelbergse Kategismus Vraag 57: Watter troos gee die opstanding van die liggaam aan jou? Antwoord: Dat nie alleen my siel na hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie, maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word. Vraag 58: Watter troos skep jy uit die artikel van die ewige lewe? Antwoord: Dat, aangesien ek nou alreeds die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar, ek na hierdie lewe volkome saligheid sal besit - 'n saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie - om God daarin ewig te prys. Geliefdes Ons lewe in die geloof is vol teenstrydighede ... Die lewe van ons voorgangers in die geloof, was vol teenstrydighede ... Neem nou maar die apostel Paulus as voorbeeld ... Hier sit hy aan die einde van sy lewe ... Hy is ‘n gevangene van die Romeinse keiser Nero. Hy is 24 uur uit 24 uur vasgeketting aan ‘n romeinse soldaat. Hy is verhoorafwagtend ... Die Keiser sou bepaal of hy verder sal lewe, of sy kop met ‘n swaard afgekap sal word ... of sy bloed soos ‘n drankoffer op die grond uitgestort sal word ... Hy is weliswaar nie meer jonk nie en het reeds baie in sy lewe vermag ... maar soos u miskien weet, is die ouderdom self ook nie ‘n grap nie ... Met die ouderdom kom die aftakeling ... siektes, kwale en in Paulus se geval ook ‘n doring in die vlees ... ‘n konstante herinnering dat hy wel die geroepe apostel mag wees, maar dat hy daardie skat, die skat van die Evangelie in ‘n erdekruik ronddra ... dat sy liggaam ‘n brose erdekruik is ... vol van die krake van die ouderdom ... Dis net ‘n kwessie van tyd ... En nou die teenstrydigheid ... Hierdie ou man, sieklik en vol pyn ... hierdie dood afwagtende gevange se brief aan die Filippense is ‘n brief van blydskap ... ‘n brief van hoop ... ‘n brief wat gaan oor ‘n vrede ... ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan ... Hierdie brief is in sy geheel ‘n ongelooflike dapper belydenis ... net soos ons belydenis ook is, geliefdes, ‘n ongelooflike dapper belydenis (ek wonder of ons dit aldag besef) ek glo in die opstanding van die liggaam ek glo in die ewige lewe ... Dis teenstrydig met alles wat ons rondom ons sien! Dis teenstrydig met alles wat ons aan ons liggame ervaar ... Dis meer as teenstrydig ... Dis bonatuurlik ... Dis vanuit ‘n ander wêreld ... Dis net so asof hierdie apostel kontak met hierdie wêreld verloor het ... met die werklikheid van hierdie sigbare wêreld verloor het ... Hy sê dit ook: sy burgerskap is elders ... Hy dra die paspoort van ‘n onsigbare land ... Sy burgerskap is in die hemele ... Sy lewe is nou in die hande van die magtige Romeinse keiser ... Hierdie keiser kan hom tussen sy vingers vermorsel soos ‘n lastige insek tussen sy vingers pap druk ... Nee, sy lewe is elders, sê hy, veilig geborge by Christus ... trouens sy lewe is Christus ... Hy lewe in en deur die Gesalfde ... wat volgens hom ‘n Naam het wat bo enige ander naam is ... En tog is hierdie wensdenkery of hallusinasies nie ... Dis nie ‘n verheerliking van die geestelike nie. Dis ook nie ‘n minagting van die liggaamlike, die vleeslike nie ... Nee, hierdie sieklike liggaam, hierdie swak liggaam wat eersdaags die finale vernedering van ‘n teregstelling tegemoetgaan, is net so veilig geborge by Christus ... Christus sal met ons opstanding ons vernederde liggame verander Hoe verander? Ondenkbaar verander ... want ons liggame sal aan sy liggaam gelykvormig word ... Hoe is sy liggaam? Verheerlik ... ‘n verheerlikte Goddelike liggaam ... Wat beteken dit? Ons kan nie eers begin om dit vir onsself in te dink nie ... saam met die belofte van die ewige lewe is dit 'n saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie ... position: 692
bottom of page