top of page

Dagmens of Nagmens? Johannes 3
Preek Johannes 3 - Woorde uit sy Woning
Prk Johannes 3 Nagmens of Dagmens? 2017 06 04 Lees Joh. 3:1-21, 13:21-30. Teks Joh. 3:2 Hy het in die nag na Jesus gekom ... Tema: Nagmens of dagmens? Sing: 100:1,3, 100,3,4, 66:6,7, 119:25,26, 43:3,4,5 Broeders en Susters, Toehoorders, Nikodemus was die die nagdissipel, Nikodemus was die man met ‘n geheim: Te bang om saam met die Rabbi van Nasaret gesien te word! Te bang om sy Naam voor die ander Fariseërs te bely! Maar, Geliefdes, ons moet Johannes se Evangelie weer lees en weer lees, sodat ons self nie in die duister bly nie, sodat die skille ook van ons eie oë afval, sodat ons self uit die nag sal kom om voortaan kinders van die lig te word. Want hierdie man, Jesus Christus, is die lig wat in die duisternis skyn. Dis die duisternis wat van hierdie wêreld nag maak, al skyn die son. Dis die duisternis wat maak dat ons onsself gedurig vasloop, gedurig in mekaar vasloop. Dis die duisternis wat ons die verskoning bied om ons bed saam met die bose op te maak, want “niemand het mos gesien nie!” Dis uit hierdie nag dat Nikodemus kom na die lig van die mense. Sy eerste tree uit die donker is onseker. Hy is onseker oor hierdie Man Ja, hy is dalk selfs skaam om saam met Hom gesien te word. Die Man is ‘n rabbi, net soos Nikodemus self, maar die Man doen kragtige tekens. Daarom moet Hy ‘n leraar wees wat van God gekom het. Dis asof Nikodemus met homself praat. Ons kan hom amper hoor dink. Ons kan hom amper hoor vra: Wie is hierdie man? Nou kan ons ook vra: Wat is dit wat in Nikodemus roer? Waar kom sy onrus vandaan? Wat maak dat hy uit die duister tree om die lig te soek? Jesus, die Rabbi, openbaar ‘n raaisel aan hom en dis ook amper asof die Rabbi met Homself praat. Op sy beurt praat Hy oor wedergeboorte ... Hy praat met die Fariseër wat uit die donker nag kom. Hy praat van sien ... ‘n koninkryk wat gesien word ... Niemand sal die hemelse koninkryk kan sien, tensy hy weer gebore word nie ... En die Heilige Gees is besig om dit met Nikodemus te doen, want kyk ... kyk Nikodemus, die Fariseër, ‘n owerste Jode, ‘n man wat by uitstek geglo het dat die volk hulleself kan en moet red ... Kyk, daardie man het nou die eerste tree uit die donker gegee om by die lig te kom sit. En daardie vraag wat hy in homself ronddra, daardie roering hier in sy binneste ... dis die pyne van ‘n geboorteproses ... ‘n proses vanuit die donker baarmoeder na die helder lig. Dis ‘n onverstaanbare proses, onbepaalbaar soos die wind. Dis in alle opsigte Goddelik en hemels ... Net die Seun van die Seun van die Mens kon die lig verklaar, want Hy was self die waaragtige Lg ... die waaragtige Lig wat elke mens sou verlig. Dis moeilik om te verstaan, Nikodemus. God weet: geen geboorte is maklik nie, maar God sal vir jou ‘n teken gee: Hy sal die Seun van die mens verhoog, Hy sal bokant die aarde opgelig word soos Moses die koperslang in die woestyn omhoog gehou het ... en die volk het daarna gekyk en hulle het gesien en hulle gelewe ... Só sal die Seun van die mens verhoog word en almal wat kyk en sien en verstaan, hulle sal bly lewe .... “want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe mag hê ... “ O soete Evangeliewoorde! Sien tog, Nikodemus, verstaan tog! Kategismusreekse: Heidelbergse Kategismus position: 737
bottom of page