top of page

Christus staan in jou pad! Die donkie praat?
Preek Numeri 22 - Woorde uit sy Woning
Moet ons nie maar liefs die Ou Testament met sy vergesogte gebeure en verhale eenkant laat nie? Moet ons nie liefs hierdie sprokies van pratende diere eenkant laat nie? Kan die hierdie verhale vir ons vandag iets sê? Ons word deur Jesus Christus aangespreek. Die geskrifte getuig immers van Hom ... en daarom ... omdat Hy vandag nog steeds deur sy Woord met ons praat ... daarom luister ons ook graag .. baie graag ... na die Ou Testament. “En die esel het die Engel van die HERE in die pad sien staan, met sy ontblote swaard in sy hand.” In ons vertaling word die woord engel met ‘n hoofletter gespel... en dis ook reg so. In hierdie tydperk van die kerk se geskiedenis verskyn Christus dikwels in die gedaante van ‘n engel. Die esel sien die magtige werklikheid ... die werklikheid dat Jesus Christus, die Seun van God daar is om sy volk te beskerm. En die esel sien dat hierdie Jesus Christus vir Bileam tot ‘n teenstander geword het en dat hy ter wille van sy eie donkielewe en die lewe van sy ruiter liefs moet wyk. Nou, soos ons gesê het is daar baie mense in ons tyd wat hierdie Bybelse verhaal asook die ander Bybelse verhale wil afmaak. Verhale byvoorbeeld rondom die vleeswording van Christus as ‘n mite of sprokie wil afmaak. Ons weet mos, so sal hulle sê dat esels nie praat nie ... net so min as wat ‘n vrou sonder ‘n man kan swanger raak. Die stomme skepping het dikwels meer te sê meer oor die koms van Christus te sê as baie ... baie wyse en verstandige mense. Die Godgeleerdes van ons tyd, die teoloë wat die Bybelse boodskap vandag vertolk se oë is dikwels dig toe ... siende blind. Met die gesag van hulle wetenskap sal hulle sê: Toemaar mense ... Daar was nog nooit ‘n slang of ‘n donkie wat kon praat nie ... en daarom was daar ook nie ‘n komende Christus nie of sal daar ook nie ‘n wederkomende Christus wees nie. Daarom was daar nooit die vleesgeworde Woord nie nooit ‘n God gebore uit die maagd Maria nie. In London Engeland loop daar op ‘n stadium 30 busse met die volgende bewoording op: “Daar’s waarskynlik nie ‘n God nie Hou dus op om jouself te bekommer en geniet jou lewe!” Niemand kan die deure van hierdie wêreld sluit as die Here hulle wil oop hê nie ... en inderdaad self oop maak wanneer sy Seun aan die kom is nie. Dit gaan dus nie in Numeri 22 oor die kontak tussen die natuurlike en die bonatuurlike nie ... Nee, dit gaan oor die mense paaie wat daar op die aarde betree word. Dis op mensepaaie dat die profete ry. Dis op mensepaaie dat die Bybelgeleerdes van ons tyd in hulle motors ry. Dis op hierdie weë dat ons self partykeer ‘n donkierit onderneem ... wanneer ons in ongeloof verval, wanneer ons deur die teorieë van ons tyd verlei word, en wanneer ons graag by die wêreld in wil wees. Soos die HERE vir Bileam sê: jou weg loop gevaarlik steil in my oog. Mens, jy’s op die pad van die dood. Dis op hierdie mensepaaie dat God ons konfronteer deur sy Seun sy Vleesgeworde Woord. En as ons hiervoor blind is, sal ons dit ook nie sien voordat ons eendag die knie sal moet buig voor die Here Jesus Christus nie. Genadiglik gaan ons oë ook oop op hierdie mensepaaie, gaan ons oë oop soos die Emmaus-gangers se oë oopgegaan het, want Hy wat Jesus genoem word kom wel die vyande van volk met die swaard tegemoet. Hy openbaar homself as ‘n onoorkombare struikelblok in die pad vir diegene wat sy Woord minag, maar Hy sal geduldig saam met sy broeders stap, langs sy broeders stap hy op hulle mensepaaie selfs al was hulle onverstandig met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het ... en Hy sal begin van Moses af ... al die boeke van Moses ... ook die boek Numeri en hy sal al die profete ook vir hulle uitlê ... in al die Skrifte ... die dinge wat op Hom betrekking het. Hy sal nie net hulle oë oopmaak nie, maar Hy sal hulle harte ook brandend maak. En as die evangelie oor ons pad gekom het, laat ons verheug wees. U weet mos wat die grootste wonder is ... ‘n groter wonder as ‘n donkie wat praat? U weet wat die grootste wonder is? Dis die wedergeboorte wat in ons harte plaasvind. Dan word ons miskien vreemdelinge vir hierdie wêreld, maar ons word kinders in die huis van die Vader ... position: 643
bottom of page